Is Radio Pretoria onwettig op die lug?

In die program, “Dit is Radio Pretoria” is glo aangekondig dat die uitsaai-owerheid, OKOSA, inligting ontvang het dat Radio Pretoria besig is met onwettige uitsendings deur ’n stuk of agt herleistasies.

Waarnemers het aan Die Vryburger gesê dat dit opvallend is hoe die Radio deesdae van sy oorspronklike koers afwyk en gevolglik die luisteraars van hom vervreem.

Ingevolge die uitsaaiwet moet elke herleistasie in besit wees van ’n volledige uitsaailisensie. Dit blyk dat daar sowat agt herleistasies is wat nie aan die vereiste voldoen nie.

Dit is ook bekend dat die Radio vir geruime tyd adverteer dat hulle deur verskillende herleistasies hoorbaar is. Dit beteken dat die Radio se direksie bewus was daarvan dat hulle onwettig deur middel van herleiding uitsaai.

Die radio se sogenaamde tussentydse hoofuitvoerende beampte, wat reeds meer as ’n jaar in diens van dié Radio is, het blykbaar gesê hulle sal die beste regspan in die land kry om hulle saak te verdedig.