Hospitaal word gedagvaar

Mev. Maria Roelofse (92) van Villieria, Pretoria, eis R1 miljoen van vyf verweerders weens ’n beweerde voorval in die Netcare Pretoria One se Moot-hospitaal in Rietfontein. Blykbaar spruit die eis uit ’n voorval waar sy van die teater bed geval het en werwels in haar rug beseer het.

Luidens Roelofse se hofstukke het sy erge pyn in die rug gehad waarvoor sy op 5 November 2004 ’n prosedure onder algemene narkose ondergaan het.

Die teater bed het “skielik gekantel, oorgehel en/of gesak, wat tot gevolg gehad het dat die bejaarde dame van die bed afgeval of afgeskuif het… ”

Talle ander eise is in die afgelope tyd teen hospitale ingedien weens nalatige of klaarblyklike moedswillige optrede van personeel teenoor pasiënte. Dit blyk ook dat daar ’n ernstige gebrek aan kundigheid by hospitale is en dat toerusting onklaar is weens die verkeerde gebruik daarvan.