Groot verwagtinge vir BlackBerry 10

Research in Motion se hoofuitvoernde beamte, Thorsten Heins, sê dat die BlackBerry 10, wat op 30 Januarie 2013 op die mark kom, RIM sal kan red van ondergang.

Die foon se vierkantige voorkoms is soortgelyk aan sy voorgangers. Daar is wel ‘n paar uiterlike veranderinge soos die “tuis knoppie” se afwesigheid en die insluiting van ‘n rooi liggie wat flits as daar ‘n oproep inkom. Daar sal ook ‘n opsie wees vir ‘n model met ‘n fisiese sleutelbord.

Waar daar by ander selfone spesiaal na sekere opsies mgegaan moet word om ander fasiliteite soos opdatering en “apps” te gebruik, het die nuwe BlackBerry ‘n geïntregeerde stelsel wat sekere opsies outomaties aanbied. Volgens Heins is die foon meer spanningsvry as die van die opposisie deurdat daar nie na al die verskillende applikasies gegaan hoef te word nie.

RIM hoop om van sy besigheidskliënte, wat verlore gegaan het, weer terug te wen. Daar word ook beoog dat RIM se nuwe produk met verloop van tyd die korporatiewe omgewing se behoeftes aan tafelrekenaars en skootrekenaars sal vervang deurdat die produk met ‘n tafelskerm en -sleutelbord verbind sal kan word.