Geluk Eskom, dink nou aan die boere

Gedurende die afgelope finansiële jaar het Eskom ‘n geweldige groot wins getoon te midde van n daling in die kragverbruik in die land. Daarbenewens moes Eskom tevrede wees met die grootskaalse diefstal van elektriesiteit in veral swart woongebiede.

Met die bekendmaking van die resultate het TLU SA daarop gereageer deur te versoek dat dat die Nasionale Kragvoorsiener nou sal omsien na die belange van die landbouers in die land. In n mediaverklaring wys TLU SA daarop dat verbruikers gehoor gegee het en minder krag gebruik het soos wat versoek is.

Die volledige verklaring word hier gegee en lui soos volg:

Eskom behoort gelukgewens te word met die feit dat hy in die laaste ses maande tot September vanjaar dit kon regkry om ten spyte van minder aanvraag in elektrisiteit (nogal deur die wintermaande) dit kon regkry om ’n wins van R12,6 miljard te toon.

Eskom het skynbaar voorsiening gemaak in ’n daling van die aanvraag na elektrisiteit en daardie daling was inderdaad meer as wat verwag is. Nietemin maak Eskom voorsiening in ’n toekomstige styging na die vraag van elektrisiteit en voer dit as rede aan vir die aangevraagde tariefstyging oor die volgende vyf jaar.

Dit wil dus voorkom of verbruikers inderdaad gehoor gee aan Eskom se versoek om elektrisiteit te bespaar. Bowendien is die stygings van die laaste paar jaar genoeg rede vir enige verbruiker om verdere besparings in werking te stel.

Gevolglik kan aanvaar word dat Eskom se voorsiening vir die volgende vyf jaar nie realisties is nie wat beteken dat geen verdere verhoging nodig is nie.

In die lig van sy winsgewendheid en moontlik verkeerde aannames en berekeninge, doen TLU SA ’n beroep op Eskom en op Nersa om nie enige verdere tariefverhogings in werking te stel nie en dat ’n moratorium op enige verhogings geplaas sal word vir die volgende drie jaar. Boere gaan reeds ernstig gebuk onder hoë insetkoste en lae produkpryse, en verligting op die elektrisiteitsrekenings kan net hulle druk help verminder en bydra tot volgehoue voedselsekerheid.