Dracontium Amorphophallus

Hier kom ons weer by die Aronskelkfamilie. Hierdie rare Amorphophallus is van die Aronskelke familie en die plante is in 1692 vir die eerste keer gesien, maar nog nie geïdentifiseer nie. In 1834 is hulle geïdentifiseer en opgeteken en onder die Aronskelke geklassifiseer. Daar is toe ook verskeie spesies van die Dracontiums gevind en in 1911 het daar publikasies oor hul verskyn.

Die plante groei die beste in die laagliggende en subtropiese gebiede, van Wes Afrika tot in die Pasifiese Eilande. Die Dracontium spesie kom in Amerika voor. Meeste van hierdie spesies is inheems en aard goed in woude.

Hierdie plante groei van ondergrondse bolle of knolle wat van spesie tot spesie verskil, van ‘n bolvormige knol, ‘n langwerpige knol of trosvormige wortels. Daar verskyn ‘n enkele blaar op die punt van die bol wat nogal groot en lank is. Uit hierdie blaarsteel ontwikkel ‘n enkele blom op ‘n steel wat lank of kort kan wees. Dit is die wêreld se grootste onvertakte blom en kan ‘n hoogte van 2,5m en wydte van 1,5m bereik. Die blomskede is lank of ovaalvormig en kom in verskillende kleure voor maar meestal bruin-pers of wit-groen. Aan die binnekant van die blomskede is daar riffies of knoppies wat insekte vashou vir bestuiwing op vroulike blomme. Die blomme is onwelriekend en lok baie insekte. Die bestuifde blomme vorm ‘n groot bessie as ‘n vrug. Die bessie kan dan rooi, oranje-rooi, wit, wit en geel of blou wees.

Dit is interessant dat die plant en blom so giftig lyk en tog word die bol/knol deur die Japanese gebruik as ‘n verdikker om eetbare jellie temaak wat glukose bevat.

Geniet u tuin na die heerlike reën!!!