Die armste president in die wêreld, Jose Mujica

Die president van Uruguay, José Mujica, het ‘n unieke bynaam, veral vir ‘n president: “el presidente mas pobre” (vertaling: “armste president”).

Die 77-jarige president het onlangs aan die Spaanse koerant El Mudo bevestig dat hy ongeveer 90% van sy presidensiële salaris as ‘n donasie teruggee, wat hom die armste maar ook die vrygewigste president in die wêreld maak.

Volgens die president ontvang hy $12,500 per maand waarvan hy slegs $1,250 in sy sak steek. Hy sê hy kan daarmee uitkom. “Ek kan op so min geld leef en moet dit doen want daar is talle inwoners van Uruguay wat op minder moet leef,” sê hy.

Hy en sy vrou , ‘n senator, wat ook ‘n gedeelte van haar salaris teruggee, woon in ‘n plaashuis in Montevideo. Sy grootste uitgawe is sy Volkswagen Beetle wat vir $1,945 gewaardeer is.

Dit is ook te verstane dat sy land tans bekend staan as die een met die minste korrupsie. Self het Mujica nie ‘n bankrekening of skuld nie en hy geniet die een ding wat geen geld kan koop nie, die geselskap van sy hond, Manuela.