CVO Pretoria beloon leerlinge vir prestasie

Skitterende kultuur- sport- en akademiese prestasies van CVO Skool Pretoria se leerlinge is onlangs tydens drie verskillende prysuitdelings, naamlik die Matriek-prysuitdeling, Gr 4 – 11 Sterre-aand en die JPF meriete-aand, beloon.

By die Matriek-prysuitdeling word die Dux-trofee jaarliks toegeken aan ‘n graad 12-leerling op grond van sy/haar prestasies dwarsdeur sy/haar skoolloopbaan. Betrokkenheid by ‘n verskeidenheid bedrywighede, sowel as uitmuntende akademiese prestasie, word in ag geneem.

Die skool se uittredende hoofseun, Jan Conradie, is vanjaar as Dux-leerling aangewys en het ook ‘n meriete-toekenning van R4 100 van die Universiteit van Pretoria ontvang.

Nico de Jongh (gr 12) het die prof Alkmaar Swart-wisseltrofee vir mees veelsydige leerling op die gebied van akademie, sport en kultuur ontvang.

Ses van die skool se elf matriek-leerlinge het ook spesiale eretoekennings ontvang omdat hulle tydens hulle volle skoolloopbaan in CVO Skool Pretoria was. Hierdie leerlinge is: Jan Conradie, Tiaan Grant, Aliesha Jordaan, Janru Reynders, Nico de Jongh en Peter van der Poel. Jan is ook aangewys as beste presteerder in gr 12.

CVO Skool Pretoria se sport-en kultuurpresteerders van Gr 4 – 11 is op Donderdagaand, 18 Oktober, tydens die skool se jaarlikse Sterre-aand beloon vir besonderse prestasie. Die Douw Venter-sportster van die jaar-trofee is vanjaar gedeel tussen Beaulah Venter (gr 11) en Anelda Smith (gr 7) vir besondere prestasie in drie verskillende sportsoorte.

Die skool se krieketspelers het vanjaar besonder goed gevaar. Altesaam veertien krieketspelers was vanjaar ingesluit in die Sentraal-Transvaal Hoërskool- en Laerskoolspanne wat aan die landwye toernooi deelgeneem het. Vier van die skool se krieketspelers was ook ingesluit in die BCVO-spanne wat aan die jaarlikse Somerweek van die AVS (Bokkieweek) deelgeneem het. Gerhard de Bruin (gr 8) het die trofee vir die beste krieketspeler van die jaar ontvang en Pierré du Plessis (gr 9) en Tiaan Grobler (gr 6) vir beste vordering in krieket.

Vier van die skool se hoërskoolleeringe het vanjaar deurgedring na die Nasionale Ekspo vir Afrikaans en elf het aan die De Beers-olimpiade vir Engels Huistaal deelgeneem. Een van die matriek-leerlinge, Carine Joubert, se Afrikaanse gedig is vanjaar ook in die Poort-bundel gepubliseer.

Die skool ken ook jaarliks ‘n trofee toe aan ‘n leerling in elke fase vir besonderse gebruik van suiwer Afrikaans. Hierdie toekenning is verwerf deur Waldo van Niekerk (gr 10) en Roelof van Jaarsveld (gr 5).

Ander trofees wat toegeken is: Ondernemerstrofee – Mart-Marie Reynders
Diensleweringtrofee – Janet Legemaat
Ambassadeur van die jaar – Mira Kaffka
Junior victrix ludorum – Anelda Smith
Senior victrix ludorum – Janet Legemaat
Laerskool-skaakkampioen: – Harm v Jaarsveld
Hoërskool-skaakkampioen: – Derik Rousseau
Trofee vir beste prestasie in landloop – Mira Kaffka
Trofee vir mees toegewyde landloper – Crizanne Grobler

Verskeie halferekleure en erekleure is vir prestasie en agtereenvolgende deelname by landwye toernooie aan sport, sowel as kultuur, toegeken.