Australiese strande gesluit na bloedrooi see

Toeriste by die Bondi Strand in Australië is vandeesweek teleurgestel na ‘n seldsame natuurverskynsel wat die water bloedrooi kleur. Bondi is een van die verskeie gewilde strande in en rondom Sydney wat gesluit moes word na ‘n ongewone opbloei van alge die see in iets wat lyk soos ‘n bloedbad verander het.

Die verskynsel word veroorsaak wanneer alge floreer en dié fyn slymerige plante versamel, met skouspelagtige resultate.

Ten spyte van waarskuwings het talle onverskrokke strandgangers steeds die rooi water trotseer vir afkoel doeleindes. Swemmers is aangeraai om nie in gebiede waar die water gekleur is te swem nie, aangesien die alge hoë vlakke ammoniak bevat. Die ammoniak kan velirritasie veroorsaak. ‘n Woordvoerder van die plaaslike raad het gesê dat die strande gesluit sal bly totdat die alge wegdryf.

‘n Groot aantal visse het glo omgekom as gevolg van die alge.

Plaaslike inwoners hoop dat die alge sal weggaan hierdie naweek wanneer daar na bewering temperature hoër as 40°C sal heers.