Vennootskappe tot groter eenheid

In die kort bestaan van Die Vryburger het menige leser hul mening gelug oor groter eenheid en beter vennootskappe onder volksgenote. Die graad van daardie eenheid verskil van persoon tot persoon. Dat groter eenheid nodig is, kan niemand betwis of teenstaan nie.

Dit is verbasend dat daar nou ook klanke van skeiding gehoor word uit die kamp van die onbetroubare multikulturele vakbond en sy filiale. Dit laat nie net wenkbroue lig nie. Dit dwing vryheidstryders om in hulle pasoppens te wees. Te veel kere het hulle as vennote nader gestaan en uiteindelik ’n kaping uitgevoer met die doel om hulle eie belange te bevorder.

Daarom sal hierdie nuwe wending met versigtigheid benader word.

Vennootskappe en samewerkingsooreenkomste kan groter krag verleen wanneer daardie samevoeging van kragte ten doel het om die gang na volksvryheid te versterk en te verhaas. In kort kan gesê word dat samewerking slegs moontlik is indien die einddoel algehele volksvryheid in ’n eie land beteken.

Die Vryburger het tot stand gekom omdat die vryheidsvlam besig was om te taan. Iewers het die kapers van die boodskapdraer die inspirasie vandaan gekry om die sogenaamde “vryheidstryders” se pogings te sink, of minstens te vertraag. Die beste manier om dit te doen, is om die struktuur te kaap. Hiervan is daar talle voorbeelde hoe die multikulturele vakbond sy seekat arms gebruik het om koersvaste instansies op ’n nuwe spoor te plaas – want geld het hulle en skroom nie om daardie geld aan te wend tot bereiking van eie doelwitte nie.

Daarom kan daar met reg wenkbroue gelig word as daar te midde van bewysbare uitsprake dat volksvryheid in ’n eie vaderland nie haalbaar is nie, nou skielik nuwe klanke gemaak word waarin volksvryheid hoog opgegee word as die antwoord op die volk se kwellinge.

Daar is die Engelse uitdrukking: een keer gebyt, die tweede maal skrikkerig.

Die Boere-Afrikaners is nie skrikkerig vir die multikulturele vakbond met sy baie geld nie.

Die Boere-Afrikaner is skrikkerig vir die jakkalsdraaie en onvoorspelbare handelinge van die vakbond wat gister nog by monde van sy hoof gesê het dat volksvryheid in ’n eie land ’n mite is en nie haalbaar is nie.

Die twyfel oor eerbaarheid in hul bedoelings is te betwyfel weens historiese uitsprake, optrede en handelinge. Om met die Broedersbonders, FW de Klerk-Stigting en ander linkses te verklaar dat hulle saam met die ANC/SAKP wil werk om die Nuwe Suid-Afrika te maak werk, is te verstane.

Maar as daardie selfde mense skielik baie betrokke raak by behoudendes se strukture, dan word die vrae al meer en meer. Die lesers het die kaping van ’n radiostasie beleef. Daardie radiostasiew het darem Maandag weer begin vry na selfbeskikking – en dan wonder jy wat is al weer aan die broei ……

Wie is die volgende op die kapingslys? Sal jy so ’n manteldraaier ooit kan vertrou in die loopgraaf?