Varksig!

Hoe maak mens as jy die wêreld oortuig het dat iemand ‘n vark is, maar as almal dan grootoog die vark dophou om te sien hoe varksig hy is, maak hy nie ‘n snorkgeluidjie nie. Dit beteken dan jy laat OJ Simpson meer onskuldig lyk as Mary Poppins. Al wat jy kan doen is om ‘n vark van iemand te maak! Lok hom uit, breinspoel hom, indoktrineer hom en oortuig hom om net een varksige geluidjie te maak. Wanneer hy wel so maak, spring jy self op altwee agterhoewe en gil soos ‘n maer…wel…vark dat almal gou moet kom kyk hoe varksig die ou is.

Dit wil vir my lyk of daar toe op die ou end meer polisiemanne aan die hoogverraad gewerk het as boeremaglede! Die polisie het hulle geleer bomme maak, planne smee en om die hele regering omver te werp. As ons net die polisie los om aan te gaan kan ons dalk gou weer ‘n nuwe regering hê! Miskien moet ons die polisie net help met ammunisie, aangesien hulle niks in hul store kan hou nie, en ‘n paar planne en so, dan stuur ons hulle weg teen die regering.

Blykbaar het die polisiemanne die geleentheid gebruik om aan die Azanië polisiemag te bewys dat hulle heeltemal bereid is om hul eie mense se vroue te bedroef en effektief hul kinders sonder pa’s te laat , alles om seker te maak dat hul meerderes nie hoef te twyfel in hulle verraaiersharte nie. Hulle base moes weet dat hulle geen lojaliteit teenoor hulle eie mense het nie, dat hulle gewetens in 1994 ingeruil is vir hul poste, hul selfrespek plekgemaak het vir lafhartige selfsugtigheid en die portrette van Jopie Fourie en De Wet op hul mure vervang is met plakkate van FW, Nelson en Karen Zoid. Hierdie manne raak so opgewonde soos Oom Jurie by ‘n laerskoolseuns swemles en dit oor verraad!

Nouja, die ware storie het nou uitgekom en die vet soê wat gegil het “vark! vark!” lyk nou so bietjie verleë. As die skuldiges tog net voor stok gebring sal word! Maar, vir dit om te gebeur sal die vetste varke hul soos mense moet gedra!

Tot volgende slag

Die Sweep