TERRORISTE PLAASAANVAL – GROBLERSDAL

In die vroeë oggendure van 15 Augustus 2012 is ’n boer, mnr. George Mills in die Groblersdal omgewing op ’n wrede manier uit sy slaap gewek toe daar deur sy slaapkamer venster op hom in die bed deur terroriste geskiet is.

Enkele oomblikke vroeër het sy patryshond, wat by hom in die kamer slaap, hom gewaarsku dat dinge buite die huis nie pluis is nie. Tot ’n mate was hy dus voorbereid op ’n gebeurlikheid, maar tog ook nie. Mnr. Mills het hul vuur beantwoord maar het ’n storing met sy handwapen ondervind. Sy hond het dadelik gestorm maar die terroriste het op hom gevuur en hom gewond. Die hond het bly storm en die boosdoeners het die hasepad gekies.

Mnr. Mills het dadelik die boere in die omgewing in kennis gestel en hulle het vinnig gereageer. Tesame met hulle, het mnr. Piet Groenewald, van die omgewing se plaaswag gereageer en die terroriste se spoor begin volg. Intussen het die boere ‘n kordon om die gebied gespan en al die ontsnappings roetes versper.

Mnr. Groenewald maak gebruik van Boesman spoorsnyers en hulle het vroegoggend die terroriste op ’n buurplaas opgespoor waar hulle in hegtenis geneem is.

Die vier terroriste het Maandag 29 Oktober 2012 in die landdroshof op Groblersdal verskyn waar hulle aansoek om borg gedoen het. Boere van die omgewing het by die hof bymekaar gekom en daar is beswaar gemaak teen die toestaan van borg.

Die borgaansoek het nie geslaag nie en die terroriste verkeer in aanhouding en sal weer op 19 November 2012 in die landdroshof op Groblersdal verskyn.

Op die foto verskyn sommige van die boere wat die hofsaak bygewoon het.