Switserse geheime bankrekenings taboe

Rolprentfilms, waarin skelm geld in ‘n Switserse geheime bankrekening gestort word, sal binnekort nie meer realisties wees nie. Internasionale druk het veroorsaak dat dit deesdae byna onmoontlik is om ‘n geheime bankrekening in Switserland te hê.

Terroriste organisasies, regeringsdiktators en krimminele het ‘n Switserse bankrekening handig gevind weens die vertroulikheid om hulle beleggings in weg te steek. Switserse bankregulasies maak dit deesdae al hoe moeiliker om met hierdie praktyk voort te gaan. Banke word nou van owerheidsweë verplig om meer inligting oor hulle kliënte te openbaar. Een van die grootste privaatbanke in die land, Pictet, vereis toestemming van sy kliënte om hulle bankbesonderhede aan gemagtigde fiskale owerhede bekend te maak. Kliënte word ook per brief versoek om hulle banksake te reguleer of om hulle rekenings te sluit indien hulle fondse van twyfelagtige aard is.

In Luxemburg het deposante ook ‘n groot mate van vertroulikheid geniet om met hulle beleggings minimale belasting te betaal. Nuwe maatreëls word ook hier toegepas en banke word verplig om meer inligting oor hulle kliënte in te samel oor waar hulle geld vandaan kom, die woonadres van die kliënt en sy totale bates. Daar word verwag dat streng owerheidsregulasies, soos in Switseland, ook binnekort in Luxemburg toegepas gaan word.

‘n Groot getal deposante woon in België wat as een van die lande in die EU beskou word met aansienlike vermoënde inwoners.