Redaksioneel – Ons treur

Gedurende Oktober, wat veronderstel is om die mooiste, mooiste maand te wees, het die volk weer eens kennis geneem van die moordbendes en terroriste se aanvalle op volksgenote.

Tot en met Sondag, 27 Oktober is agt onskuldige mense op wreedaardige wyse om die lewe gebring. Die een geval is meer skokkend as die ander – en die een moord met groter haat en wrewel gepleeg as die ander.

As ’n 18-jarige skoolmeisie voor haar ouerhuis doodgeskiet word, dan ruk dit nie net die gemeenskap van Springs nie, maar die hele land se blankedom is in rou. Sy is een van vyf vroue wat met haar lewe moes betaal omdat hulle blank was, omdat hulle beskaafde mense was wat onskuldig was maar wat slagoffers van wraaksugtige barbare is.

As ’n bejaarde man en sy vrou deur drie swartes aangeval word met spitgrawe, dan is dit ‘n barbaarse handeling. Daardie dame moes na ’n week lange stryd haar geliefdes agterlaat.

Dit is hierdie tendense wat in Die Vryburger gerapporteer word, nie om sensasie te wek nie, maar om volksgenote telkens daaraan te herinner dat hulle in ’n land woon waar terroriste vrylik rondbeweeg en elke blanke enige oomblik ’n slagoffer kan wees.

Daarom treur ons saam met ons lesers. Dit is onskuldige bloed wat vergiet word. Die metode van bloedvergieting is nie veel anders as wat die Voortrekkers by Bloukrans beleef het nie. Die wreedheid en barbarisme is nog dieselfde as daardie tyd.

Ons roep ons lesers op tot groter waaksaamheid. Die moorddadigheid van hierdie wreedaards gaan nie stop nie.

Hierdie klein volk sal net oorleef in ’n eie land waar beskaafde norme en standaarde toegepas en uitgeleef word. Hoe gouer daardie vryheid aanbreek, hoe gouer sal daar rustigheid in die gemoed van die volk wees.