Othello in die Metropolitan Operahuis

‘n Verslag van ‘n Suid-Afrikaner wat die opvoering van Othello in die Metropolitan Operahuis bygewoon het.

“Johan Botha sou 7 opvoerings van Verdi se “Othello” hierdie maand by die Metropolitan Opera gesing het.

Hy het die openingsaand gesing maar het weens ‘n allergie baie probleme met sy stem gehad en moes die res van die opvoerings kanselleer.
Saterdag was die laaste opvoering en dit was ook op HD deur die hele Europa, Asië en Australia uitgesaai.

Hy was vir 6 weke hier en het op die einde net twee opvoerings gesing.

Toe ons vanmiddag by die operahuis aangekom het, was ek dankbaar om te sien dat daar nie ‘n wit blaadjie in die program was om aan te kondig dat ‘n sanger nie sou sing nie. Hulle kon nog steeds op die verhoog loop voor die overture en aankondig dat hy nie sal sing nie. Eers nadat die huis donker geword het was ek oortuig dat Johan sou sing. Die Met kon praat, sy repetiteur kon help maar op die einde was dit sy besluit of hy sou kans sien om voor al daardie miljoene mense voor die kameras op te stap en te sing.

Die opening van “Othello is baie dramaties met ‘n storm wat woed en die koor en die orkes sing en speel so hard as hulle kan. Othello stap aan wal van sy skip af en sing die “Exulatate” wat eindig op ‘n hoë C……..Met die sing van daardie noot het almal geweet hulle is in vir ‘n wonderlike belewenis. Dit was een van die mees opwindendste opvoerings wat ek nog ooit by die Met gesien het. Van die orkes tot elke sanger in die kleinste rolletjie was begeesterd en die gehoor was in hulle sitplekke vasgenael. Niemand het gehoes of hulle oë geknip nie. Mens was te bang om iets te mis. Die trane het geloop en ek het later gehoor mense sê dit was die eerste keer dat hulle in ‘n opvoering van Othello gehuil het…..

Johan het gesing soos ek hom nog nooit hoor sing het nie – Ongelooflik….Die gehoor kon nie stil sit nie en na die eerste pouse opgestaan en die hele rolverdeling ‘n staande ovasie gegee.

Fleming en Struckman was onverbeterlik en dit was ‘n begeesterlike okkasie!! Almal was so teleurgesteld dat Johan nie al die opvoerings kon sing nie -en dit was asof dit hulle laaste kans was om te wys wat hulle kon doen……

Dit was ‘n onvergeetlike opvoering en dit moet nie gemis word nie. Dit sal die einde van November in Suid Afrika se HD teaters gesien word.

Johan het weereens bewys waarom hy een van die beste opera tenore in die wêreld is vandag- en een van die min tenore wat “Othello” kan sing.

Johan is reeds terug in Wene waar hy binne 3 weke weer in ‘n produksie moet sing. In Januarie keer hy terug na Amerika vir ‘n nuwe produksie van “Die Meistersingers” in Chicago om die Wagner jaar in te lui.
Moet dit nie mis nie!”