Openbare skole duurder as private skole

Suid-Afrika se sogenaamde “uitsoek” openbare skole word “geprivatiseer” en onbekostigbaar vir die meeste ouers.

Bekende hoër skole in Kaapstad, regdeur die land tot in Pretoria het hulle tariewe vir volgende jaar sodanig aangepas dat dit nou duurder is as in baie private skole. Die nuwe tariewe het daartoe gelei dat sekere skole nou tot R30,000 per kind per jaar sal hef. Dié skole se beheerliggame word nou beskuldig dat hulle die openbare skole wil “privatiseer”.

Die nuwe tariewe veroorsaak dat talle ouers nie meer hulle kinders na die skole kan stuur nie en dit word in sekere kringe beskou as ’n nuwe manier om apartheid toe te pas op die beginsel van die destydse Verenigde Party (Sappe). Dié Party het geglo dat ekonomiese kragte vanself skeiding sal bewerkstellig.

Die ANC se minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het gesê dié metode van “privatisering” maak skole baie duur en onbekostigbaar vir baie leerlinge. Sy het egter ’n tyd gelede erken dat sy haar eie kind na ’n private skool gestuur het.