Oortollig!

Elke keer wat die e-tol stelsel weer op dreef kom na dit gestop is, is die poeiermelkproduserende, brandsiek belastingmelkkoei nog ʼn tree nader aan malkoeisiekte. Die senuwees kan mos nie hou nie! Hoeveel meer kan nou uit een dier getap word as sy reeds ses keer per dag gemelk word, daagliks bloed skenk en die speeksel ook al geoes word. Daar bly nie meer liggaamsvloeistowwe oor om die plaas mee aan die gang te hou nie, en die hele plaas word natuurlik met die een arme Charolais-koei onderhou aangesien die varke meer gelyk is as die ander diere.

Voor die metafoor egter skeefdraai, laat ek eerder reguit praat. Hier is nou een Sweep wat jy nooit met ʼn e-tol skyfie sal betrap nie. Waar het jy al ooit gehoor dat as jy geld nodig het om paaie te bou, jy ouma se pensioen vat vir kapitaal. Dan bou jy elke 5 km ʼn stel diskoligte op die snelweg in en implementeer ʼn stelsel wat 80% van die geld wat dit invorder moet spandeer aan die salarisse van die sewe ongeletterde kwotaspelers wat elke kantoor beman om twee keer per dag aan een of ander gewillige slagoffer ʼn skyfie te verkoop. Al troos vir ouma is dat die slaggate mooi vertoon in die bloupers ligte as sy in die aand met haar elektriese rolstoel op die snelweg ry.

Die ergste van alles is waarskynlik die bemarking! Dis om van bulimies te raak! Die ding word geadverteer asof dit die beste ding is wat met motorbestuurders kon gebeur sedert Lollie Jackson se afsterwe! Kyk die groot afslag! Ons verarm u nou met 10c minder op ʼn slag as wat aanvanklik ons plan was! Party mense, (hoofsaaklik opposisiepartymense) is uiters dankbaar oor hoe hulle tegemoet gekom word ten opsigte van hoe presies hulle ingedoen word. Soveel so dat hulle sommer self aanbevelings maak. “Moet my nie indoen met e-tol nie! Doen my eerder in deur nog ʼn heffing te plaas bo-op my reeds gehefde en belaste brandstof, waarvan ek deesdae nie eers op reistoelae kan terugeis nie!”

Persoonlik verkies ek dat ek ingedoen moet word deurdat my boetes my bereik per balju of geregistreerde pos, maar dalk is dit net ek…

Tot volgende slag

Die Sweep