Ons gaan stat toe!

In die lig van die onregverdige bohaai wat mense maak oor die paar randjies wat Showerspear Zuma aan sy beskeie pondokkie spandeer, het ek dit goedgedink om lesers op ‘n begeleide, dog denkbeeldige, toer deur sy vakansiestat te neem om te wys waarom alles daar ‘n uiterste noodsaaklikheid is! Om dit die beste te begryp geskied dit deur die oë van die hoofvakansieganger self…
Jy word wakker op jou R45 000 bed, versterk met ‘n “titanium-alloy” metaalraam want jy kies jou byvroue soos jy jou brood koop, die ronde bruines en ten minste ses rolle. Jy loop na die badkamer, nie om jou tande te borsel nie, dis vir westerlinge, maar om jou kop kaal te skeer met ‘n uiters tradisionele “Mach-12: 4-blade-Ultra- turbo-maximum-close-cornerglider” skeermes met skokbrekers vir die hobbelrige plekke soos presidensiële hoofde. Vir die skeer is dit nodig om in ‘n R15 000 spieël te kyk want jy het ‘n moeilike kop om te skeer. As jy oor die eerste bult kom is jy vir omtrent 20 cm in ‘n blindekol. Na die skeer gaan jy stort in ‘n R80 000 stort want gewone storte was net Sifilis en Gonorrhoea af, vigs is ‘n perd van ‘n ander kleur.
Jy trek jou vakansiedrag aan en na jy jou tradisionele springbokvel uitrusting regggetrek het maak jy jou tradisionele Adidas veters vas en sit jou tradisionele Oakley sonbril op. Jy stap af na jou R4.5 miljoen vlugnabootser, want ‘n president vlieg baie en as hy nie, selfs met vakansietye, oefen om sy drankmisbruik in regte vliegomstandighede te kan volhou nie, kan jy maar netsowel misdaad erken, jou regeertyd is dan elk geval verby. Hierna stap jy na die R28 miljoen pretpark toe, waar jou kinders speel. Jy gaan nie op die ritte nie want die rye is te lank, maar jy is wel aangenaam verras om nog twee van jou kinders te ontmoet wat jy nie van geweet het nie. Uiteindelik maak jy gou ‘n draai by die R12 miljoen kantoorkompleks om seker te maak die toespraakskrywer vermy die groot en moeilike woorde soos “Government”, “recession”, en “poligamy” wat dit ookal mag beteken. Nou kan jy bietjie voor jou R50 000 platskerm gaan ontspan voor ‘n ou klassieke filmpie soos The gods must be crazy en dink hoe die land sou inmekaartuimel as dáárdie klomp moes regeer!
Tot volgende slag
Die Sweep