Omgewingsaktiviste vrygelaat na betoging by Eskom

Veertien omgewingsaktiviste is Dinsdag deur die polisie aangehou nadat hulle by Eskom se Megawatt Park in Johannesburg betoog het. Hulle is op borgtog vrygelaat en het later in die Randburgse Landdroshof verskyn.

Sewe betogers het vroeg Dinsdagoggend op die gebou se dak gaan staan en ‘n banier voor die ingang ontplooi wat sê: “Eskom is onder ‘n nuwe bestuur”. Sewe ander het hulle-self by die ingang van Megawatt Park vasgeketting.

Hulle betoging is aangevuur in protes teen Eskom se gebruik van steenkool en ook die besluit om vir ‘n jaarlikse tariefverhoging van 16% vir die volgende vyf jaar te vra. Slegs sowat 3% van die verhoging sal gaan vir die koste van hernubare energie wat deur onafhanklike maatskappye geproduseer sal word.

Die betogers se kettings is later afgesaag en hulle is deur die polisie na die Sandton-polisiestasie geneem.

Die betoging was ‘n gesamentlike protesaksie gereël deur Greenpeace, Earthlife Africa Johannesburg en GroundWork wat gesamentlik hulle beywer vir omgewingsbewaring, skoon lug en hernubare energie.
Eskom het vroeër vandeesweek ‘n aansoek vir tariefverhoging by Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien. Eskom se voorgestelde tariefverhoging sal die prys van elektrisiteit van 61 c per kilowatt-uur in 2012/13 tot R1,28 per kilowatt-uur in 2017/18 verhoog.
Die huidige multijaar-prysvasstellingsmodel eindig op 31 Maart 2013. Na ‘n reeks openbare verhore en ‘n deeglike konsultasieperiode sal Nersa sy finale besluit in Februarie 2013 bekendmaak.