MOTOR RUBRIEK – VETERAAN MOTORS – 11 OKTOBER 2012

Met die motor gereed om geverf te word, is dit tyd om ’n paar besluite te neem.
Eerstens: Die kleur; tweedens: Afwerking; derdens: Verf produk.

Wanneer ’n veteraan motor herbou word, moet daar besluit word of die kleur moet voldoen aan die vereistes van die oorspronklike voertuig, of dit ’n kleur van u keuse gaan wees. Indien dit geklassifiseer moet word as ’n veteraan motor, moet dit die oorspronklike kleur geverf word.

Wat die afwerking aanbetref moet dit ook voldoen aan die vereistes van die oorspronklike voertuig. Met ander woorde, dit moet ’n hoë glans verteenwoordig en indien dit in ’n kleurskema geverf was, moet dit weer in ’n kleurskema geverf word.

Daar is tans ’n groot verskeidenheid verf produkte beskikbaar. Sommige duur, ander goedkoper. Die gewildste verf is die 2K produkte. Dit beteken dit bestaan uit twee komponente. Die verf en die verharder. Dit word gemeng in ’n verhouding van 2 tot 1. Een deel verf en twee dele verharder. Daar kan verdunners ook bygevoeg word om dit meer vloeibaar te maak. Daar kan 10% of 30% verdunners bygevoeg word afhangende van die tipe spuitverf toerusting wat gebruik gaan word vir die aanwending.