Leerlinggetalle sink nog ‘n Afrikaanse skool

Die laerskole Elsburg, Elspark en Delville in die omgewing van Germiston se beheerliggame onderhandel al vir die afgelope paar weke nadat die onderwysdepartement voorstelle van hul gevra het as gevolg van ‘n groeiende getal Engelssprekende leerlinge in die omgewing. Al drie laerskole is binne 7km van mekaar en hulle het onderskeidelik 600, 900 en 800 leerlinge.

Die hoof van Laerskool Elsburg, Mnr. Flip Swart, het gesê daar is weens lae leerlinggetalle nie meer plek vir al drie Afrikaanse laerskole nie. In beginsel het die beheerliggame al besluit dat twee van die drie skole moet saamsmelt.

Die 123 jaar oue Laerskool Elsburg se Afrikaanse status gaan waarskynlik in die stof byt omdat daar geen Engelse skool in die omgewing is nie en die vraag na Engelse onderrig verhoog as gevolg van nabygeleë plakkerskampe. Dit sal veroorsaak dat sowat twee derdes van dié laerskool se leerlinge by een van die ander twee laerskole sal inskryf wat tot gevolg het dat Elsburg ‘n Engelse skool word.

Dr. Martin Human van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het die vergaderings bygewoon en hy twyfel of die proses voor die einde van die jaar afgehandel sal wees.
Nadat die saamgesmelte skool ‘n tussentydse beheerliggaam verkies het en ‘n nuwe beleid ingestel het, sal die skool ‘n nuwe naam en identiteit kry.
Die Onderwysdepartement het gesê geen finale besluit is nog oor die drie laerskole geneem nie en onderhandelinge duur voort.