Kyk nou hoe wil ANC maak!

Inwoners van Pretoria kan nog tot 6 November stem oor wat die hoofstad se naam moet wees.
Stemvorms is by die speaker se kantoor by die Sammy Marks-plein in die middestad en ook by kliënte-dienssentrums oor die stad heen beskikbaar.
Nomasonto Ndlovu, woordvoerder van die metroraad, het gister gesê stadsamptenare en die beamptes by dié sentrums is ten volle in die stem-proses opgelei.
Volgens Ndlovu sal alle kommentaar en stemme oor die beoogde naamsverandering eers bymekaargemaak word waarna dit aan die raad en Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, voorgelê sal word voordat die nuwe naam aangekondig sal word.
Ndlovu kon nie bevestig wanneer dit sal wees nie.

’n Woordvoerder van die Republikeinse Vrouebeweging het aan Die Vryburger gesê daar moet in ag geneem word dat die hele stemproses verkeerd is aangesien dit lank voor die tyd amptelik aangekondig moes word. Verder moet blankes en veral Boere-Afrikaners deel van die toesighouers oor die proses wees. Die belangrikste is egter dat Boere-Afrikaners nie belangstel in die stemming nie omdat die naam onveranderd moet bly, maar nou gedwing word om deel te neem terwyl duisende mense nie stembriewe kan gaan afhaal weens verskeie redes. Dit maak die hele proses onwettig en onaanvaarbaar, het sy gesê.

“Die ANC toon met hierdie optede hoe onkundig hulle is oor wetlike stem prosedures,” het sy half ergerlik gesê.