Kersboom in Oktober!

Ek stap net die ander dag met ‘n vriend van my wat graad gevang het se toga en sertifikaat rond in die winkel toe ‘n koerant my oog vang wat berig oor Lt.Kol.Dr.Ds.Adv.Prof. Mbuyazi wat vieslik uitgekryt word oor hy ‘n dooie maatjie se medaljes geleen het vir ‘n funksie! Waar gaan die land heen? Wat is ‘n paar medaljes nou tussen vriende? Wie van ons het nie al met ‘n dooie ou se matriek-prefek balkie of ‘n dooie ou se Stelleland rugbytrui rondgeloop asof ek self die prestasie behaal het nie? So by my kool! Wat maak dit nou saak of dit my laat beter lyk as wat ek is en my dalk aansien gee of ‘n bevordering besorg bo iemand wat dit verdien? As daardie ou die werk wou hê kon hy sy eie dooie ou kry om goed by te steel en as die dooie ouens wat hy van weet dan nie soveel prestasies behaal het nie is dit sy problem!

Persoonlik dink ek dat hy beter kon doen. Hy kon daar opgedaag het met 3 Voortrekkerbalkies, 12 Klippies en Cola doppies, ‘n halwe tennisbal en ‘n Sjefhoed. Dit is nie asof die ou wat hom aangestel het sou agterkom nie! Dié sou hom waarskynlik as generaal aangespreek het. Al mense wat gekla het oor die hele ding is die mense wat nie soveel medaljes kon bymekaar kry nie en gedwing was om die bloedskenkmedalje te dra wat hulle by die skou gekry het toe hulle die SANBS se stalletjie met die biertent verwar het.

Die hele petalje is wel ‘n goeie aanduiding daarvan dat die weermag van Azanië, hoewel hulle in ‘n oorlog minder sou beteken as selfs die helfte van die Griekwastad se ouetehuis se vroulike inwonertal, tog ‘n uitstekende diens sou kon verrig in die afleiding van bulle by rodeos. As ek nou nog een keer hoor dat hulle nutteloos is! Miskien skrik die weermag nou wakker en poleer al drie tenks wat nog oor is vir die volgende mynstaking. Mens kan maar net hoop!

Tot volgende slag

Die Sweep