KATSTERT / BULBINE FRUTESCENS

Dit is weer lente, winter is verby …… en saam met die lente kom die insekte!!

KATSTERT / BULBINE FRUTESCENS:
Hierdie plant kom in soveel tuine voor. Ons dink dis sommer net so ’n ou vetplantjie, met vlesige blare en die plante lyk soos grasuie voordat hy blom. Hy groei vinnig en maklik, breek hom sommer uitmekaar en plant en voor jy jou oë uitvee blom hy. Hy lyk glad nie soos die katstert (tipe varing) nie.

Sy blare lyk soos ’n vetplant punterige blare en die mees algemene katstert dra geel tot oranjekleurige blommetjies. Hy groei in enige tipe grond en vaar ook goed in rotstuine, hou van son en het min water nodig. Die plant groei tot +- 15 na 20 cm en dan dra hy stingels met blommetjies.

Weet u dat hierdie plant soveel medisinale gebruike het. Dis doeltreffend vir die behandeling van insekbyte, ekseem, jeukerige vel, brandwonde, koorsblare en nog baie meer. Breek net die vetterige blare van die plant af, en vryf die sap op die aangetaste dele. Verder word van die katstert se sap ook as basis in velrome gebruik.

Geniet die tuinmaak en onthou om katstert aan te smeer wanneer die goggatjies byt!!