Ek sien dit so!

Ek is vandag ‘n trotse Boer! Nou die dag gaan loer ek bietjie in by die kubervolkstaat, Bravoland. Daar lees ek toe een van die onderwerpe wat handel oor ‘n jong gesin wat bietjie meer as ‘n week gelede op straat beland het, hul twee kinders is 5 jaar en 11 maande onderskeidelik. Dit was bloot ‘n sameloop van omstandighede wat hulle in daardie posisie geplaas het.

Die Bravolanders het nie op hulle laat wag nie, en binne twee dae is daar vir die man werk gereël, sowel as verblyf. Vandag het die dame, wat hierdie reëlings getref het, meer as 300km gery om die mense te gaan oplaai. Om te dink, Woensdag het hulle in ‘n stormwaterpyp geslaap, Vrydag in ‘n geskenkte tweemantentjie, en vanaand in ‘n bed! Die goedhartigheid wat daar nog te bespeur is in sekere volksgenote se harte vir hul eie mense, is ongelooflik om te aanskou. Kordaat Neelsie kan nie anders as om sy hoed te lig vir hierdie mense en kliphard te skree: BAIE DANKIE!!!

Dit was nou ‘n brokkie goeie nuus, maar helaas, ons bly in ‘n land waar ons mense voor die voet vermoor word. Asof dit nie erg genoeg is nie, wil dit voorkom of die winkelrakke besig is om leeg te loop as gevolg van die vervoerstaking. Het jy al voorsorg getref? Dis immers veel beter om voorbereid te wees op niks, as wat jy onvoorbereid is op alles. Of hoe?

Afrika is nie vir lafaards nie, as jy dus voel dat dinge bietjie sleg begin lyk, maak dat jy weg kom! Want sien, die huidige omstandighede is maar net die begin. Ek het egter ‘n liefde en ‘n diep respek vir my voorouers, en ek wil nie sien hoe hulle opofferings tot niks kom nie, ek sal maar hier bly. Al sou daardie keuse tot my uiteindelike dood lei.

Ek wil tog vra dat julle wakker sal bly, berei julself voor op die ergste, en as niks gebeur nie, wees dankbaar dat jy nie volgende maand te veel kos hoef te koop nie. Fluit-fluit, Neelsie se storie is uit!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie