Ek is ’n Breytenbach man !

“27 en 28 Oktober het gekom en weer gegaan. Daar is nie 4 000 wit vroue en kinders vermoor soos sommige e-posse beweer het gaan gebeur nie. Mag die mense wat hierdie onwaarhede so vryelik help versprei het en daardeur mense onnodig paniekerig gemaak het, hulle kop in skaamte laat sak en volgende keer twee keer dink voordat sulke dwase gerugte die wêreld ingestuur word. As iemand vyandigheid wil beplan, wil hy die verrassingselement aan sy kant hê en sal hy nie weke voor die tyd sy plan laat uitlek nie. Bowendien moet ons ten alle tye paraat wees en voorbereid omdat moorde en aanvalle op ons boere en volksgenote deurlopend plaasvind.” So skryf Volksraadslid Henk van de Graaf op die sosiale netwerk Facebook, na aanleiding van die “waarskuwings” wat ons seker almal per teksboodskap of e-pos ontvang het sedert vroeg in Oktober. ‘n Mens is dankbaar vir hierdie soort van nugter denke deur die Volksraad en die vermaning wat ook in die hierdie boodskap bevat is.

Inderdaad het die sosiale media die laaste maand oor hierdie “waarskuwing” gegons, maar ook oor twee ander sake; Die Volksraad se eis wat al deur duisende volksgenote elektronies geteken is en dan die “grootste Afrikaner van alle tye” meningpeiling wat in Oktober bekend gemaak is. Terloops, hulle het bevind dat die mitiese figuur Liewe Heksie hulle grootste Afrikaner van alle tye is.

Dit is ook aanduidend van die drie denkrigtings wat tans in die volk bestaan. Aan die een kant is die groep wat gereeld wolf-wolf skree. Wat klaarblyklik glo dat Suid-Afrika deur een enkele kataklismiese gebeurtenis verwoes gaan word soos die nou al cliché van die nag van die langmesse. Dit is ook nie uitgesluit dat die “inligting” wat hierdie groep of groepe ontvang se ontstaan binne die Intelligensie dienste van Suid-Afrika is nie. Die onlangse onthullings oor die sogenaamde Boeremagsaak is duidelike bewys in die verband. Hierdie groep se oplossing is om te wag tot hierdie kataklisme gebeur en om klaarblyklik dan as blankes laer te trek en dan …… ek weet nie en wonder of hulle self weet. Kort en lank is, hulle oplossing is ras gebaseer. Wit teen swart, swart teen wit met net een moontlike oorwinnaar aan die einde.

Aan die ander kant is die Liewe Heksie-bende. Hierdie mense aanvaar dat Suid-Afrika op die afdraende pad is, maar glo so sterk in hulle eie vermoëns, dat hulle heilig oortuig is dat hulle Suid-Afrika sal red van ondergang. Al wat hulle nodig het om die nodige getalle bymekaar te maak om dit reg te kry, is die steun van die kleurlinge (of is dit deesdae bruinmense, mens kan ook nie by bly met die nuutste politiek korrekte terme nie). Volgens hierdie groep is die kleurlinge integreerbaar met almal wat Afrikaans praat, bloot omdat hulle ook Afrikaans praat (of ten minste iets wat klink soos Afrikaans). Hulle visie is dus ‘n taal visie, of dan ‘n taal gemeenskap.

Iewers in die middel, is die Volksraad. Die Volksraad wat besig is met ‘n vreedsame oplossing, nie net vir ons volk nie, maar ook vir die res van Suid-Afrika en Afrika. Feit is, die Volksraad se fokus punt is die internasionale gefundeerde reg van ons volk om oor ons self te regeer.

Opgeweeg teen mekaar, is die Volksraad se eis om territoriale selfbeskikking, die enigste vreedsame, langtermyn oplossing wat internasionaal met wetgewing en verdrae regverdigbaar is, omdat dit gebaseer is op die regte van ‘n volk en nie die regte van ‘n rasgroep of ‘n taal gemeenskap nie.

Tyd sal egter leer wie uiteindelik reg was. Dit is nou, as daar nog tyd oor is. Zuma het sy nuwe grondgryp program bekendgemaak, wat daarop neerkom dat ‘n boer sal moet besluit of hy sy grond aan die staat gee en of hy die staat finansier om sy buurman se grond te steel. Dit is ‘n skaakmat situasie waarin die boere gedwing word deur die kommunistiese denke van die regime. Dit is twyfelagtig of hofsake hierdie proses gaan keer, ongeag hoeveel keer, hoeveel mense ook “stop” na watter nommer sms (sic).
Hofsake teen die regime om ‘n “beter lewe” binne die bestel te verseker, is soos om die see met ‘n besem terug te wil vee. Met elke vee lyk dit of daar vordering is, maar die oseaan is net te groot en die gety soos die tyd aanstap, al meer in vloed.

Dat daar een nag is waarin alle blankes in die land vermoor gaan word, is ook onwaarskynlik, die stadiger volksmoord wat tans afspeel is te effektief dat die strategie daar rondom nou verander sal word. Om dus te sit en niks doen en wag vir hierdie katastrofe, is futiel en kan ek my indink baie negatief op jou sielstoestand.

As ek dus moet kies tussen PW Buys, Gustav Müller of Andries Breytenbach, is dit geen moeilike keuse nie. Ek is ‘n Breytenbach man.

Piet Potlood