Die SAPD is toe die diewe

Mnr. Raymond Dicks is ‘n Regsadviseur van beroep wat by sy huis in Blue Hills, Midrand, beroof is. Klaarblyklik het die hele operasie om die rooftog uit te voer, met behulp van die SAPD plaasgevind. The Star het aldus berig .

Mnr. Dicks was by sy huis met sy vriend en sy seun. Ses gewapende swart mans het die eiendom binnegestorm en hulle vasgebind.

Dicks is ‘n regsadviseur vir NewERA (New Economic Rights Alliance). NewERA het ‘n hofsaak teen vier groot banke in die land, insluitend die Reserwebank, aanhangig gemaak. Hy verteenwoordig ook Michael Tellinger , ’n skrywer van beroep wat blykbaar Standard Bank dagvaar vir bedrog.

Op mnr. Dicks se perseel is ’n kringtelevisie stelsel geïnstalleer. Daarvolgens (en volgens The Star) wys die stelsel hoe drie polisiemotors, twee bussies en ‘n Ford heen en weer ry op die pad waar die roof plaasgevind het.

“Dit was baie goed beplan. Wat ek gedurende die rooftog deurgemaak het was erg genoeg. Toe ek ná die tyd die beeldmateriaal bekyk, was ek geskok,” het Dicks gesê. Hy sê die beeldmateriaal wys ook hoedat polisiemotors die pad versper terwyl die rowers sy eiendom betree.

The Star het berig dat Dicks en sy seun gedwing is om hulle bankkaarte en PIN-nommers te oorhandig. Geld is uit albei se rekenings onttrek. ‘n Televisie, luidsprekers, ‘n klankversterker, rekenaar en selfone is ook gesteel en klaarblyklik is daar van die gesteelde goedere in die polisiemotors gesit.