Die mooiste maand

Dit is verreweg die mooiste, mooiste maand wat tuine aanbetref. Blomme blom, bome bot en die voëltjies kattemaai. Al jou harde werk kan jy nou waardeer. Kyk om jou rond en neem alles in wat Oktober jou bied. So vinnig soos wat die lente kom, net so vinnig verdwyn hy weer.

Grasperke moet nou gereeld gesny word. Behandel al die dooie en vaal kolle voordat die eerste somer reën sy aankoms maak. Indien die dooiekolle die oorsaak van wurms is, spuit karbasprei of Dursban.

Die mooiste maand spog ook met die lelikste goggas. Dis nou die ideale tyd vir die peste om hul koppies uit te steek. Die klimaat en humiditeit pas hulle die tyd van die jaar. Stel deeglike ondersoek in. Kyk veral aan die onderkant van die blare. Plantluise kruip graag daar weg. Vergeling van varkore en verrotting aan die basis is die werk van ‘n bakteriese infeksie en gaan nie deur enige swamdoder opgelos word nie. Die beste manier is om besmette plante uit te haal, vrot gedeeltes af te sny. Plant dan jou varkore in‘n bedding waar daar nog nie vantevore varkore in was nie.

Die diere in jou tuin kan ‘n groot voordeel wees. Die geveerde vriende in jou tuin is ‘n natuurlike plaagbeheer. Jy kan self die verskeidenheid voëls in jou tuin bepaal. Volgens prof. Morné du Plessis, direkteur van die Percy FitzPatrick- instituut vir Voëlnavorsing in Afrika by die Universiteit van Kaapstad, is die vier lokmiddels die soort plante in jou tuin, kos, water en nesmaak-moontlikhede.

Jy kan natuurlik verskillende kosse vir hulle uitsit, maar jou plante kan ook as lokmiddel dien. Plant vrugtebome vir tiptolle en spreeus. Nektarvreters soos suikerbekkies en jangroentjies. Kraanvoëlblomme en koraalbome vir saadvreters soos kanaries en rooibekkies. Vrugtebome behoort insekte te huisves wat insekvreters soos glasogies, paradysvlieëvangers, janfrederikke en lysters sal lok. Voëlbad vir groot plesier – vir geveerde vriend en ons wat toekyk.

Plant van die maand: kraanvoëlblom (Strelitzia reginae). Dit lyk ook vir 2 weke nog mooi in ‘n vaas.

Geniet jou tuin – die somer is hier!