Chrysler weer op koers

Die motorreus, Chrysler, wat die derde grootste motorvervaardiger in Detroit is, het bekend gemaak dat sy kwartaalikse wins met 80% toegeneem het. Chrysler het deur ‘n moeilike tyd gegaan en moes ‘n tyd gelede deur die VSA regering van ondergang gered word. Dit was ‘n goeie besluit en die maatskappy kon daarin slaag om sy skuld grootliks af te los en kon weer reserwefondse begin opbou. Beskikbare kontant het vermeerder van $9,5 miljard tot $11,9 miljard. Skuld staan op $693-miljoen teenoor die $2,86 miljard ‘n jaar gelede.

Die netto inkomste wat bekend gemaak is was $381 miljoen, teenoor die $212 miljoen vir dieselfde tydperk verlede jaar. Inkomste vir die kwartaal was $15,5 miljard, wat 18% hoër is as die $13,1 miljard van die vorige jaar se ooreenstemmende kwartaal.

Chrysler, wat sedert 1925 bestaan, produseer voertuie soos Chrysler, Dodge, Fiat en die bekende Jeep-reeks. Die Europese motormark beleef tans moeilike tye en die aandag kan nou op die sukkelende Fiat gegee word. Die hoofuitvoerende beampte van Chrysler en Fiat, Sergio Marchionne, mag binnekort aankondigings maak oor stappe met Fiat.

Chrysler, met sy swaarder voertuie, het veral markaandeel ingeboet weens die hoë brandstofpryse en moes veral staatmaak op sy bakkies, minibusse en 4×4-voertuie. Danksy die hulp van Fiat-tegnologie het Chrysler nuwe produkte soos die Dodge Dart op die mark gebring wat 11,62 km per liter lewer. Daar word ook meer effektiewe enjins by die gewilde Jeep Grand Cherokee en die Chrysler 300 gebruik.

Chrysler beplan om vanjaar 2,3 miljoen voertuie te verkoop.