Brutaliteit van polisie

’n Dame en oud-polisiebeampte van Dewetsdorp-distrik is deur polisiebeamptes op ’n ongelukstoneel buite Bloemfontein geïntimideer en met pepersproei gespuit. Sy is ook met ’n kierie gedreig.
Die moeilikheid het begin toe Doreen Meiring (48) ’n foto wou neem en ’n video wou maak nadat ’n bakkie by die Grootvlei-tronk buite Bloemfontein teen haar bakkie gebots het.
Mnr. Danie Hoffman van ’n insleepdiens wat Meiring bygestaan het, is deur die polisieman met die pepersproei in die oë gespuit. Hoffman en Meiring het in sy bakkie gesit toe die beampte hulle ná ’n woordewisseling met die pepersproei gespuit het.
Later het ’n polisievrou ’n stok voor Meiring geswaai toe sy ’n video van die ongelukstoneel maak.
’n Polisieman het die twee blankes verbied om foto’s van die toneel en voertuig te neem en hulle probeer dwing om foto’s wat met haar foon geneem is, uit te wis.
“Die man was baie aggressief en verskriklik arrogant, maar het geen diens op die toneel verrig nie. Hy het nie ’n naamplaatjie gedra nie en hy wou ook nie homself identifiseer nie.
“Hy het my rondgestamp en van die toneel afgestoot. Sy kon daarin slaag om later weer foto’s en ’n video te neem.
Hoffman sê baie van die polisiebeamptes op die toneel het nie naamplaatjies gedra nie. Meiring en Hoffman het albei klagte van aanranding by die Parkweg-polisie ingedien.