Branden Grace triomfeer op Dunhill baan

Die 24 jarige Branden Grace van Suid-Afrika het hierdie naweek die Alfred Dunhill-links toernooi op St. Andrews gewen. Hierdie boorling van Pretoria het die baan aan die brand gespeel en met ’n telling van 22 onder baansyfer vir die toernooi geëindig. Hierdie poging het die rekord vir hierdie toernooi geëwenaar. Dit is die jongman se vierde oorwinning hierdie jaar in die Europese reeks. Dis voorwaar ’n wonderlike prestasie as in ag geneem word dat dit sy eerste jaar as deel van die toer is.

Met hierdie sege van Grace, beteken dit dat Suid-Afrikaners vanjaar nege keer aan die wenkant was in die Europese reeks. Dit is die meeste oorwinnings deur enige land in die reeks tot sovêr.