Alma – ’n tweede Mozart?

Sy speel pragtig klavier en het reeds ‘n opera gekomponeer – en sy is net sewe jaar oud. Klassieke musiek liefhebbers vergelyk die jong Alma Deutscher met Mozart, wat op vyfjaar begin komponeer het.

Alma wat tuisskool ontvang, bly by haar ouers in Surrey. Haar pa, Guy is ‘n taalwetenskaplike en amateur fluitspeler en haar ma is ‘n akademikus.
Volgens haar trotse pa het sy op tweejarige ouderdom die klaviernote geken. Vir haar derde verjaarsdag het sy ‘n viool gekry en daarvandaan het sy van krag tot krag gegaan. Binne ‘n jaar kon sy werke van Handel speel.
Op haar “youtube” kanaal, wat al deur 75 000 mense besoek is, speel sy ook werke van ander meesters bv. Schubert, Haydn en Mozart. Die beste musiek is egter haar eie komposisies vir viool en klavier.
Weekliks kry sy klavier- en vioollesse by die Yehudi Menuhin Skool in Cobham, Surrey en mag dalk in die nabye toekoms permanent onderrig daar ontvang.

Vroeër vanjaar het Alma ‘n kort opera; “The Sweeper of Dreams” gekomponeer vir die English National Opera se kompetisie vir jong musici. Die komposisie het eers in die finale rondte net-net uitgeval.

Volgens haar pa is dit wat sy nou doen nie minder gesofistikeerd as dit wat die jong Mozart gedoen het nie.