Afrikaner maak groot naam in New York

Die gesegde gaan dat as jy dit in New York kan maak, is jy ‘n wenner.

Een van die Afrikaanse mode-ontwerper, Henry Schickerling, wat reeds ‘n indrukwekkende aantal beroemdes klee, se ontwerpe kan op die voorblad van die Opera News, die Engelssprekende wêreld se top publikasie oor opera, gesien word.

Die foto is van die bekende dramatiese sopraan Nina Stemme in ‘n skepping van Tosca Couture ontwerp deur Henry Schickerling. Vir sanger en ontwerper is dit ‘n eer so groot as om op die voorblad van Vogue of Time Magazine te verskyn.

Henry wat in trou-en aanddrag spesialiseer is self ‘n groot operaliefhebber wat jaarliks ‘n seisoenkaartjie vir die Metropolitan operahuis in New York koop, Hy is ‘n wandelende ensiklopedie oor opera en operasangers vandaar dan ook die naam van sy ateljee, Tosca, ‘n huldeblyk aan die groot en bekende opera van Puccini.

Ofskoon hy reeds sy vaderland vyf-en-twintig jaar gelede verlaat het om ondervinding in modehuise in Londen, Milaan en Rome op te doen, het hy in samewerking met Marion Milenovic, ‘n verkoopsverteenwoordiger van Oscar de la Renta vir 18 jaar, Tosca New York in 2002 geopen.

Sy kliënte sluit onder andere glanspersoonlikhede in soos Judge Judy Scheindlin van televisiefaam, operasangers waaronder die mezzo-sopraan Susan Graham, die soprane Deborah Voigt en Renee Flemming, filmsterre, politici en ander uit die vermaaklikheidwêreld soos Leslie Uggams en Aretha Franklin.