Viscount gedenkteken onthul

Op 3 September, 34 jaar gelede is die eerste Viscount vliegtuig deur terroriste afgeskiet tydens die Bosoorlog.

Mnr Johan Willemse, n Munisipale Raadslid van die VF Plus in Pietersburg het ‘n uiteensetting gegee van die gebeure wat daartoe gelei het dat ‘n gedenkteken onthul is op Monumentkoppie ter herdenking van die slagoffers.

Sy volledige verklaring en uiteensetting lui soos volg:

Vandag, 3 September 2012 vier-en-dertig jaar gelede, het die terroriste magte in die Bosoorlog in Rhodesië die eerste vliegtuig met ‘n SAM 7-missiel afgeskiet. Vier maande later is die tweede Viscount, weer vol toeriste, ook afgeskiet. Gister is hierdie traumatiese gebeure nogmaals tot die voorgrond gedwing, toe ‘n gedenkteken op Monumentkoppie ten weste van die Voortrekkermonument onthul is. Die oprigting hiervan is moontlik gemaak deur naasbestaandes en vriende van die slagoffers, asook ander oud-Rhodesiërs.

Op die gedenkteken verskyn die name van almal wat in hierdie twee terroristeaanvalle die lewe gelaat het. Die seremoniemeester was Mike Wescott, ‘n voormalige televisiepersoonlikheid van Rhodesië, en tans Mediakundige in die Kaap. Die diens is waargeneem deur kol. Bill Dodgen, voormalige kapelaan uit ons buurstaat se verdedigingsmag.

Opmerklik was die aanwesiges se erkenning van die oorlog wat enkele dekades gelede gevoer is. Dit staan in skrille kontras teenoor die passiewe gelatenheid wat by talle Afrikaners waargeneem word ten opsigte van die bosoorlog, maar ook ongeërgdheid teenoor omstandighede wat vandag heers. Die trots waarmee vertel is hoe alle terroriste wat in die vermelde twee aanvalle betrokke was, opgespoor en uitgewis is, spreek boekdele. ‘n Trots wat talle Suid-Afrikaners besig is om in passiwiteit te verloor.