Verlore Turner skildery ontdek.

‘n Oliverf skildery wat op ‘n veiling by ‘n gholfklub in Engeland vir £3,700 gekoop is en nou aanvaar word dat dit ‘n verlore werk van die meester is, sal sy eienaar waarskynlik £20 miljoen in die sak bring.

Vir Jonathan Weal, ‘n kunsliefhebber en investeerder was dit van die begin af duidelik dat die werk deur JMW Turner, Brittanje se beroemdste skilder, gedoen is. Kunshistorici en wetenskaplikes gee hom gelyk nadat toetse vasgestel het dat die olie uit die jaar 1805 dateer en die handtekening as die van Turner deur deskundiges bevestig is.
Kunsversekeraars Hiscox, het die multi-miljoen pond valuasie op die meesterstuk getiteld, Fishing Boats in a Stiff Breeze, geplaas.
Vir jare was dit in ons land ‘n ongeskrewe beleid van matrikulante gewees om met hulle afskeid ook ‘n geskenk aan die skool te maak. Hierdie geskenk was as ‘n reël ‘n oorspronklike skildery deur ‘n Suid-Afrikaanse skilder gewees. Op talle plattelandse Afrikaanse Hoër skole was dit ook nie ongewoon om werke van Pierneef, Coetzer, De Jongh en ander vooraanstaande skilders teen die skool se saalmure te sien nie.

‘n Mens sou graag wou weet wat van hierdie skatte geword het. Na verwagting sal ‘n skildery deur Irma Stern wat binnekort weer op ‘n veiling in Londen aangebied word, vir miljoene verkoop word.

In die lig hiervan, is dit nie miskien ‘n idee waarmee ons jong CVO-skoliere vandag weer kan begin nie?