Vandag ‘n jaar gelede..

Sonder ‘n leierskorps met ‘n behoorlike steunbasis, kan geen verknegte volk sy vryheid
herwin nie. Sedert 1994 het die Boere-Afrikanervolk nie net sy vryheid verloor nie, maar
was ons ook in die rug gesteek en leierloos gelaat deur diegene op wie ons as leiers
vertrou het. Daar het niemand oorgebly wat namens daardie deel van ons volk wat in ‘n
eie vaderland vry wil wees en in ons opdrag, praat, eis en handel nie.

Vandag ‘n jaar gelede, op 24 September 2011, het dit alles verander toe ‘n unieke
gebeurtenis in die politieke geskiedenis van ons volk, van Suid-Afrika en die wêreld
plaasgevind het: ‘n Onderdrukte volk hou sy eie leiersverkiesing. Landwyd, wêreldwyd trek
volksgenote kruise agter name van kandidate wat hulle op die Volksraad verkies: ‘n
Reusagtige oefening in logistiek, wat aangepak word met ‘n paar vrywilligers en die
weinige hulpbronne wat beskikbaar is. Sonder enige Afrikaanse hoofstroom-mediadekking.
Want die wêreld – ja ook die hedendaagse Afrikaner-establishment – wil steeds nie die
Boere-Afrikanervolk weer vry sien nie; dit pas nie in by hulle eie belange nie.

Daar is talle Afrikaanssprekendes wat die Volksraadverkiesingsaksie en die VVK probeer
verkleineer. Laat hulle begaan – die nagenoeg 36 000 volksgenote wat tot dusver op ons
kieserslys geregistreer is, was ‘n wonderwerk wat geensins deurgevoer sou wees sonder
dat God-Almagtig dit moontlik gemaak het nie. Ek verklaar dit onomwonde en sonder om
enigsins te probeer dweep – bloot omdat dit ‘n feit is.

Mag elkeen wat hiervan deel is of deel sal word, instrumente wees wat aldeur toeneem in
diensbaarheid aan die Wil van die Een wat ons uitgered het by Bloedrivier en Majuba – en
elke dag nog soveel van ons in die lewe hou te midde van die huidige moord en doodslag
om ons heen.

Voorsitter Paul Kruger