Twee kunstenaars sorg vir groot opgewondenheid

Op die koudste aand van hierdie lente, verlede Woensdag, het ‘n konsert met Jannie Moolman en Helena Ceronio, ‘n stampvol saal getrek. Nie net was al die kaartjies verkoop nie, maar daar moes ook nog stoele ingedra word.

Wat die gebeurtenis beduidend maak was dat die kunstenaars ‘n ligte klassieke program aangebied het wat uittreksels uit die opera, operette, musiekblyspele tot by Koos du Plessis ingesluit het. Duidelik is daar ‘n behoefte aan hierdie tipe konsert as mense bereid is om in die middel van die week die reën en koue te trotseer om daarna te gaan luister.

Die kunstenaars het nie teleurgestel nie. Beide van hulle het klassieke opleiding en Jannie veral het vir hom naam gemaak met optredes in die destydse TRUK-opera optredes. Helena is egter geen onbekende nie en veral haar optredes vir liefdadigheidsorganisasies en Kerke het haar ‘n gewilde en gewaardeerde kunstenaar gemaak.

Dit was interessant om te sien hoe gemaklik hulle van genres verwissel het: Hulle vertolking van die drinklied uit “La Traviata” van Verdi het die regte opera-aanslag gehad. Netso was die immergroen “Lippen Schweigen” uit “Die Vrolike Weduwee” van Lehar met meesleurende schmalz vertol sonder om sentimenteel te wees.

Helena het verstom met die gemak waarmee sy uit die ernstige musiek na ‘n briljante vertolking van “Cabaret” oorgeskakel het terwyl Jannie Moolman ‘n skreeusnaakse, dog smaakvolle vertolking van sy “Eerste Afrikaanse Lied” op die verhoog gegee het.

Die gemoedelike korswil tussen die twee was pittig en gemaklik en het bygedra om ‘n gees van goedige ontspannendheid by die gehoor te skep. In hierdie verband moet die uitstekende klavierbegeleiding van Engelie le Roux ook genoem word wat die kunstenaars deurgaans ferm maar simpatiek ondersteun het.

Die spontane staande ovasie aan die einde van die konsert het duidelik ‘n boodskap gestuur dat klassieke musiek gehoor en ondersteun sal word.