TLU SA lewer kommentaar oor terrorisme in SA

Nog ’n boere-gesin is vermoor. Mnr. Johan Fourie (71) en sy vrou, Cecile (72) is op die plaas Koppe in die Trompsburg distrik, Suid-Vrystaat, vermoor. Volgens gesoute speurders was dit een van die grusaamste moordtonele wat hulle nog gesien het.

Weer eens was dit een van die gevalle waar die moordenaars in die huis gesit en drink het en gewag het vir die boer om van die kerk af terug te keer. Slegs ‘n .22 rewolwer is vermis, terwyl ander wapens netso in die oopgesnyde kluis gelaat is.

“Ons kan nie eenvoudig aanvaar dat roof die motief vir hierdie moord is nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en ook voorsitter van die veiligheidskomitee. “As hulle wou gesteel het, was daar genoeg tyd om te neem wat hulle wou en weg te kom, sonder om eers mense te martel en uiteindelik te vermoor,” sê mnr. Geldenhuys.

“Wat TLU SA verder bekommer, is die feit dat daar in polisiegeledere oënskynlike onderskeid gemaak word as dit kom by sekere kategorieë mense wat vermoor word. Die afgelope reeks moorde in Natal, waar dit skynbaar ANC-ampsdraers was wat vermoor is, is dit dadelik beskryf as politieke moorde, en is die spesiale ondersoekeenheid, die Valke, ingespan om die moorde te ondersoek. Dié aanname is gemaak nog voordat enige verdere leidrade oënskynlik opgevolg is. Die regering kan nie ANC-lede bevoordeel bo die landbougemeenskap wat moet sorg vir voedselsekerheid nie.

“TLU SA vra nou al vir jare dat hierdie selfde benadering gevolg moet word by die ondersoek van plaasmoorde. Die Trompsburg-voorval bewys die noodsaaklikheid hiervan, omdat ander motiewe ter sprake blyk te wees. TLU SA is reeds jare lank op rekord dat hy sê dat ander motiewe agter die plaasmoorde sit, en dat dit die plig van die Staat is om dit behoorlik te ondersoek,” sê mnr. Geldenhuys.

Intussen het mnr. Geldenhuys boere weer eens gemaan om op hulle hoede te wees en te sorg dat veiligheidsvereistes ten alle tye nagekom word. Hy het dit benadruk dat daar genadeloos opgetree behoort te word “teen terroriste wat ons boere op plase wil vermoor.”