Teleurgestelde aanbidders

Die Springbokke het baie bokaanbidders teleur gestel die naweek. Die bokke is tans op hulle Australasiese been van die Rugbykampioenskap reeks.

Die afgelope Saterdag het hulle, heel gepas, teen die Tronkvoël eiland van Australië meegeding om die “Groot Terroris” beker. Soos gebruiklik wanneer vir hierdie trofee meegeding word, het die bokke met ’n tronkvoël nommer op hulle moue gespeel. Die middel van hierdie spesifieke nommer laat ’n mens ook aan katslagters dink. Dit was egter die bokke wat behoorlik afgeslag is. Weereens het die groter en beter benadering van mnr. Meyer nie veel vrugte afgewerp nie.

Die bokke het met rustyd voorgeloop met die telling op 13-6, nadat die Kaapse klong ’n drie gedruk het.
In die tweede helfte het die Wallabies beter gespeel en die bokke in alle fasette van die spel oorrompel. Die lakwerk van die bokke was nie heeltemal op peil nie en dit het die Australiërs op die voorvoet gehou. Die eindtelling was 26-19.
Dit voorspel niks goed vir die bokke wat nou na Nieu-Seeland toe reis om die wêreldkampioene die komende Saterdag te pak nie…

In die plaaslike Curriebeker was daar twee verrassende uitslae:
In Kimberly het die Griekwas die Natallers met 22-15 gewen.
Op die weiveld van die “Blou koei” het die Transvalers die Noord-Transvalers met 32-23 geklop.
Die Vrystaat het in Bloemfontein verloor met 29-22 teen die Westelike Provinsie.