Student eis miljoene van Vrystaat Universiteit

Hanje Pistorius, ’n mediese student gaan sowat R21 miljoen eis van die Universiteit van die Vrystaat (UV) nadat haar linkerbeen deur ’n motor afgery is terwyl sy geld vir die universiteit se jool ingesamel het.

Hanjé het gister in die Vrystaatse hooggeregshof toestemming ontvang om die Universiteit ook vir die skade aanspreeklik te hou.

Sy het ’n eis van R21 miljoen teen die Padongelukkefonds (POF) ingestel. Die Fonds betwis die eis wat vir 16 Oktober op die hofrol geplaas is.

Dié eis teen die universiteit kan tot gevolg hê dat die eis teen die POF uitgestel word om die twee eise te saam te bereg.

Regter B.C. Mocumie het Hanjé ingevolge ’n artikel van die Wet op Verdeling van Skadevergoeding toestemming gegee om ook van die UV te eis.

Sy is op 10 Oktober 2009 deur Arthur Nabu raak gery terwyl sy aan die blikkie geldinsameling vir die jool deelgeneem het. Benewens ander beserings is haar linkerbeen bokant die knie afgeruk.

Luidens haar UV-eis het die UV sy regsplig versaak deur toe te laat dat die geldinsameling waaraan Hanjé as student moes deelneem, in strate tussen of naby bewegende voertuie plaasvind.

Intussen het Die Vryburger verneem dat streeklanddros J.B. Koekemoer op 18 September in die Bloemfonteinse streekhof uitspraak lewer in die verhoor waarin ene Nabo (24), ’n regstudent aan die UV, van poging tot moord aangekla is.

Hy het na bewering ’n rooi verkeerslig verontagsaam.