Sasol maak steeds meer geld

Die steenkool-na-brandstof verwerkingsgroep, Sasol, het weereens ‘n rekord verdienste vir die jaar getoon met ‘n toename van 25%. Dit is te danke, vir Sasol (maar te wyte vir motoriste) aan die swak rand wisselkoers en die hoë internasionale ru-olieprys. Die gemiddelde ru-olieprys het met 17% gestyg, terwyl die rand teenoor die VSA dollar met 11% verswak het oor die afgelope jaar.

Sasol se verdienste per aandeel het met 25% tot R42.28 gestyg. Die jaar se omset het toegeneem van R142.4 miljard tot R169.4 miljard.

Die inwoners van Suid-Afrika bly steeds een van die min lande in die wêreld wat nie voordeel mag trek uit sy “gelukkige” posisie om grondstowwe te besit nie. Dit lyk asof die benadeling maar net nie prysgegee kan word nie, en die winste voort gaan om in die sakke van Sasol se aandeelhouers te val ten koste van die land se motoriste.