Ru-olieprys neig afwaarts

Dit lyk asof die ru-olieprys minstens voorlopig aan die daal is. Dit het op 20 September 2012 op ‘n stadium op $109 per vat gestaan teenoor die $116,87 op 14 September , voordat dit weer effens opwaarts beweeg het na $110. Kenners reken dat die rede vir die opwaartse beweging ‘n regstelling was omdat die prysdaling te vinnig en te groot was.

 

Die daling kan toegeskryf word aan verskeie faktore, waaronder swakker ekonomiese nuus uit die VSA, EU en China. In die geval van China het die VBI (Vervaardiging Bestuursindeks) vir Augustus gedaal tot 47,8. Dit is aansienlik onder die 50-punte wat die skeidinglyn is tussen positiewe groei en inkrimping.

 

Bykomende faktore tot die prysdaling was die verlaring van die wêreld se grootste ru-olie produsent, by monde van Saudi Arabië se minister van oliesake, Ali al-Naimi, dat die land sal optree as oliepryse te hoog is omdat dit uit lyn raak met die marksitusie in die wêreld. Die VSA se ru-olie vooraad het ook aansienlik toegeneem weens verhoogde aankope wat veroorsaak het dat die VSA  se ru-olie prys tot $91,69 gedaal het.