Ongewone Nobelprys

Daar is verskillende kategorië Nobelpryse wat toegeken word en dit dek omtrent elke lewensterrein. Een van die eienaardigste is die “Ig Nobel” prys wat ook vir prestasies op verskillende lewensterreine toegeken word. Alhoewel dit nie een van die mees prestige pryse is nie, is dit beslis een van die mees ongewone en vermaaklikstes. Die wenners word aangewys op grond van die mees “onwaarskynlike navorsing” om erkenning te gee aan deurbrake wat ‘n mens eerstens laat lag en daarna laat dink. Dit wil erkenning gee aan die ongewone en verbeeldingryke om daarmee mense se belangstelling in die wetenskap te prikkel.

Die Ig Nobel prys is ‘n paradoks van die Nobelprys en word jaarliks in Oktober vir die tien mees ongewone of alledaagse prestasies toegeken. Dit word georganiseer deur die wetenskaplike humortydskrif “Annals of Improbable Research” (AIR) en word by Harvard Unversiteit se Sanders Teater saam met gepaardgaande lesings aangebied.

Alhoewel wetenskaplike instansies al beswaar gemaak het dat dit enstige wetenskaplike navorsing kan afkraak het dit al positiewe deurbrake tot gevolg gehad. Een so ‘n geval was toe daar in 2006 in ‘n studie getoon was dat een van die malaria muskiet spesies (Anopheles gambiae) eweveel aangetrek word deur Limburgerkaas as deur die reuk van menslike voete. As gevolg hiervan was daar lokvalle op strategiese plekke in sekere dele in Afrika vir die muskiete deur die gebruikmaking van Limburgerkaas gestel om hulle te bestry.