MOTOR RUBRIEK – VETERAANMOTORS, ROLLS ROYCE

In die vorige rubriek is daar begin met die proses om te verduidelik hoe ’n aangekoopte veteraanmotor, herbou en gerestoureer kan word. Ter aanvang is daar verwys na die herstel en opbou van die remstelsel.

Wanneer die remtrommels of die remskywe herbou word, is dit belangrik dat die nodige mates geneem word om te bepaal of dit nog bruikbaar is al dan nie. Die vervaardigers van remtrommels en remskywe plaas ’n beperking op die dikte van die materiaal. Hierdie beperking is om veiligheidsredes. Indien dit nie meer bruikbaar is nie, kan goeie gebruikte onderdele moontlik van ’n skrootwerf verkry word of nuwe onderdele indien nog beskikbaar, aangekoop word.

Volgende aan die beurt is die stuurmeganisme. Hierdie afdeling van ’n motor is net so belangrik soos die remstelsel. Die bestuurder en passasiers se veiligheid is daarvan afhanklik.

Elke onderdeel moet sorgvuldig ondersoek word vir slytasie, verwering en gebreke. Die speling op, bv. die stuurratkas, moet nie te veel wees nie. In sommige gevalle is dit moontlik om die speling te stel. Die metode wat gevolg kan word is soos volg: Die stuurwiel word gedraai tot op die finale punt na regs. Daar is ’n verstelbout met ’n sluitmoer op die ratkas. Die sluitmoer word losgemaak en die verstelbout ingedraai tot dit stop en dan ’n kwart draai terug. Die sluitmoer word dan gesluit. Die stuurwiel word dan na links gedraai tot die finale punt na links bereik word. Die stuurwiel se draai proses na links moet sonder haakplekke plaasvind. Die draai aksie moet glad verloop. Sou dit hakerig verloop, kan dieselfde proses soos reeds verduidelik gevolg word en kan die verstelbout ’n verdere kwart draai uitgedraai word.

Word vervolg.