MOTOR RUBRIEK – VETERAAN MOTORS – 20-9-2012

In die rubriek van 13 September 2012, is daar gekyk na die verwyder en behandel van roes op die metaal bakdele van ’n motor. Vervolgens word die voorbereidingsproses vir die verf van die bakdele, behandel.

Soos met enige projek, is die voorbereiding en beplanning van kardinale belang. Die oppervlakte wat geverf gaan word, moet vry wees van enige vetterigheid, politoer (bykans alle politoer bevat silikoon), en ghries. Daar is verskeie produkte op die mark wat gebruik kan word vir die verwydering van vetterigheid. Hierdie middels is verkrygbaar vanaf motoronderdele handelaars en kan of opgespuit of per kwas aangewend word. Al hierdie produkte kan, nadat dit aangewend is, met water verwyder word. Die voorskrifte van die vervaardiger van die produkte moet streng nagevolg word vir die beste resultate.

Nadat hierdie proses afgehandel is, kan met die skuurwerk begin word. Daar is verskeie grade water skuurpapier op die mark beskikbaar wat wissel van 100 tot 2000. Wat word bedoel met die term “water skuurpapier”? Dit is skuurpapier wat gebruik word, wanneer daar geskuur word, die skuur oppervlakte met water benat word. Dit is om die skuurproses te vergemaklik en ’n gladder afwerking te verkry.