Malema het probleme

Berig is ontvang dat ’n lasbrief vir die inhegtenisname van Julius Malema Vrydagoggend uitgereik is. Die geskorste leier van die ANC-jeugliga sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Dit volg ná die Valke se ondersoek oor bewerings van korrupsie teen Malema ten einde geloop het. Malema het klaarblyklik gedurende sy ampstermyn as president van die ANCYL verskeie sakemanne van Limpopo gehelp om tenders aan hulle toegeken te kry..

Malema is verlede week toegang geweier tot ‘n byeenkoms waar mynwerkers in Wes-Transvaal ingelig is oor verwikkelinge rakende hul eis vir beter lone.

Die polisie het Malema by die hek van die Wonderkop-stadion voorgekeer en ná ‘n lang gesprek het Malema weggery. Hy is deur ’n hele aantal polisievoertuie vergesel.

’n Woordvoerder het bekend gemaak dat Malema se inhegtenisneming nie werklik van wesenlike belang is nie aangesien hy nie werklik oor ’n magsbasis beskik nie. Sy ondersteuners is hoofsaaklik afbetaalde en ander werkloses wat weinig invloed uitoefen in die ANC/SAKP regering.

“Wat egter baie vreemd is, is die feit dat die Valke geen woord wil rep oor die lasbrief of die inhegtenisneming nie”, het hy gesê.