Korrupsie vernietig RSA ekonomie

Die Instituut vir Sekuriteitstudies het Maandag gesê korrupsie het ‘n groot bedreiging vir Suid-Afrika geword, berig Eyewitness News.

Meer as R30 miljard gaan jaarliks verlore weens korrupsie.

Dit sal egter nie weerspieël word in die nasionale misdaadsyfers wat Donderdag vrygestel word nie.

Die statistieke is van die vorige finansiële jaar en weerspieël breë neigings eerder as huidige opkomende bedreigings.

“Sommige van die statistieke wat Donderdag vrygestel word is reeds met ses maande verouderd en elke maand daarna word dit met nog ‘n maand verouderd,” het Gareth Newham van die instituut gesê.

“So die jongste misdaadstatistieke wat Suid-Afrikaners beskikbaar het, kan met 18 maande verouderd wees.”

Hy sê ook daar was ‘n afname van 25% in misdaad in die afgelope dekade.

Alhoewel daar byna 16 000 moorde jaarliks in Suid-Afrika is, word die tipe moorde waaroor ons bekommerd moet wees weggesteek, soos plaasmoorde en openbare geweld.

Newham sê die misdaadstatistieke sal ook nie ‘n helderder prentjie skep oor hoe baie openbare geweld die land raak nie.

Die land se inwoners is oor die algemeen skepties oor die betroubaarheid van misdaadsyfers wat amptelik vrygestel word. Verlede jaar het vier stasiebevelvoerders in die hof verskyn oor misdaadsyfers vir die Tzaneen omgewing wat gemanupileer was. Die ondersoek het bevind dat moordgevalle verander was na doodsondersoeke en huisbraak na oortredings.