Hospitale gevaarliker as tronke

Die diens wat pasiënte deesdae in hospitale ontvang, maak dat mense se lewens veiliger is in tronke, het ’n medikus aan Die Vryburger gesê.

By Chris Hani-Baragwanath-hospitaal in Johannesburg moes dokters met selfone lig om ’n keisersnee uit te voer toe Eskom se krag tydens die operasie onderbreek. Die kragopwekker wat veronderstel is om binne enkele sekondes aan die gang te kom, het nie brandstof gehad nie.

’n Tyd terug het die Charlotte Maxeke-hospitaal se woordvoerder erken hulle moes meer as 100 operasies per week uitstel of kanselleer weens ’n tekort aan toerusting. Daar is ook nie genoeg narkotiseurs en dokters nie.

Kankerpasiënte by Steve Biko-hospitaal in Pretoria word weggewys nadat ’n bestralingsmasjien in Maart gebreek het en daar geen vooruitsig is dat dit herstel sal word nie.

Onlangs het geneeshere van die Oos-Kaapse Nelson Mandela-hospitaal die pasiënte aan hul eie genade oorgelaat en verkies om in die strate te toi-toi omdat hulle toe reeds ses maande lank sonder betaling moes werk.

Die staatshospitale in Noord-Transvaal het in Mei nie meer voedsel of medisyne gehad nie. Die dokters moes uit eie fondse hul pasiënte voed.

In Nelspruit is ’n nuwe hospitaal opgerig teen ’n koste van R75 miljoen. Die toerusting staan in kartonne en in plastieksakke toegedraai. Die hospitaal wat sowat 350 pasiente kan akkommodeer staan in onbruik. Die foto hierbo is in Mei geneem.

Hierdie toedrag van sake veroorsaak dat veral staatshospitale van geen waarde is nie. Die onkundige en onopgeleide personeel is verantwoordelik vir die breekskade van duur toerusting en dokters het geen manier om die situasie om te draai nie.