Gedink dis die einde van ons lewens!

“Ek het gedink dit is die einde van ons lewe saam,” sê mev. Lue Kruger van Vlakstryd in die Dewetsdorp distrik.
Drie gewapende terroriste het hulle in die huis oorval nadat die honde blykbaar iets ingegee is. Daarna het die boewe by ’n klein venstertjie in die sitkamer ingeklim.
Mnr. Kosie Kruger (71) en sy vrou Lue (69) is met hondekettings vasgebind en beroof terwyl hulle met ’n pistool teen die keel gedreig is.

Mnr. Kruger het kneusings en ’n steekwond in sy regterblad opgedoen en sy het kneusplekke opgedoen. Die Krugers glo dat die rowers binne-inligting gehad het want hy het die vorige dag ’n bees vir kontant verkoop.