Gaan hier weer geskiet word om te dood?

Daar is tans groot  onrus by Kumba se Sishen myn.  Onwettige plakkershutte word langs die myn hostel opgerig wat natuurlik onwettige grondbesetting is.  Die myn se beskermingsdienste het van verlede week af die plakkershutte afgebreek die oomblik wat dit opgerig is.  Onbevestigde berigte lui dat polisieversterkings die naweek aangekom het in die dorp. Verlede week was die pad na die myn gesluit en die veld aan die brand gesteek.  Nagskof werkers is ook al verhinder om aan te meld vir diens.  Een van die busse van Megabus wat skofwerkers na die myn vervoer is ook verlede week met klippe bestook.

Skole in die omgewing is gesluit weens die plofbare situasie. Gerugte doen die ronde dat Malema vroeg in September in die omgewing was; Die Vryburger kon dit egter nie bevestig nie.

Die onderliggende rede vir die opstande blyk die afsetting van die onwettige grondbesetters te wees.

In ‘n interne e-pos boodskap van Anglo American wat in Die Vryburger se besit is, skryf Andrew Loots die algemene bestuurder, dat die maatskappy konstant in gesprek met die munisipaliteit is in ‘n poging om alternatiewe grond te kry vir die plakkers. Hy skryf verder dat die myn alles in hulle vermoë sal doen om hulle bates te beskerm en dat die polisie die area patrolleer. Met die onlangse menseslagting by die Lonmin myn kan mens maar net wonder wat hierdie stelling van Loots beteken.

Piet Potlood