Eureka – lente is hier!

Die lente is hier en beloon ons – of ons dit verdien of nie.
Bestee jou tyd buite en gun jouself die reuk van varsgebreekte grond, soet
blomme en vars gesnyde gras.

Uiteindelik kan die gras weer gesny word. Sny die grasperk kort om sodoende
die ou dooie grasmat te verwyder. Na die winter is die grond geneig om
bietjie hard te wees, druk die spitvurk oral in om luggate te maak.

Strooi 10 tot 20 gram 2:3:4 korrelkunsmis per vierkante meter – maak goed
nat na hierdie toediening.
Nou is die tyd om daardie bedding waaraan jy verlede maand so hard voor
berei het, te benut.
Dis September en byna alles kan nou geplant word. Ryp of koue se tyd is gelukkig verby.

Snyblomme is altyd ‘n wenner in die somer. As jy nie nou skouer aan die wiel
gaan sit nie gaan jy al jou blomme vir jou huis koop. Wat is nou lekkerder
as om met ‘n bos vol kleure, uit jou eie tuin, die huis in te stap?
Dalhias en swaardlelies lyk uitsonderlike mooi in ‘n vaas. Dan is daar
vuurpyle, arondskelke en bloulelies – of soos ons dit maar ken, agapanthus.
Plant baardangeliere, hanekamme, ridderspore, sonneblomme, kosmos, affodille
en ranonkels. Moenie van kraanvoëlblomme (strilitzia) vergeet nie. Ai, daar
is soveel om van te kies.
Gipskruid is ‘n moét – plant sommer 2 of drie verskillende kleure. Geen
ruiker of vaas is volledig daarsonder nie.

Indien dit moontlik is, plant jou snyblomme in lang rye. Dit maak oes,
aanplanting en versorging net makliker.
Om die snyblomme se lewe te verleng in jou vaas, is daar so paar wenke:
Al die blare wat in die water gaan wees moet jy afsny.
Voeg suiker, bleikmiddel en witasyn by jou blomme se water. Dit is goeie
voeding en dien as preserveermiddel.

Plant van die maand: Gousblom (arctotis breviscapa)
Hulle is nie net pragtige grondbedekkers nie, maar verhoed grondsiektes.

Die somer lê voor met ‘n reënboog van kleure – geniet elke oomblik!